Waterblommetjiebredie

September en Oktober in die Kaap is Waterblommetjietyd! Dit is nou 'n groot bederf hierdie. Vir dié van julle wat dit nog nie probeer het nie, doen gerus, dis heerlik! Hierdie resep kom uit Die Fynproewersgilde: So eet ons in Stellenbosch, en is die enigste resep wat ek, of enige iemand in ons familie gebruik vir waterblommetjies. 

5 – 6 porsies

1 kg stowelamsvleis, middelmatig vet
1 groot ui, opgekap
15 ml (ongeveer) sout en peper na smaak
2,5 kg waterblommetjies, goed skoongemaak
‘n handjievol suring (indien beskikbaar)
500 g aartappels, geskil en in kwarte gesny
Suurlemoen


Smoorbraai die vleis en ui met die helfte van die sout en peper totdat dit bruin en sag is.
Voeg die waterblommetjies en suring by die vleis en plaas die aartappels bo-op.
Voeg die res van die geurmiddels en 250 ml water by.
Laat dit stadig prut totdat die waterblommetjies en aartappels sag is. Voeg meer water by indien nodig. Moenie die bredie roer voordat dit opgedien word nie. Roer dit dan goed en sit dit voor saam met rys en suurlemoen.
Hierdie gereg moet sterk met peper gegeur word.


Skoonmaak van waterblommetjies:

Week die waterblommetjies oornag in soutwater en spoel dit dan baie deeglik af. Maak die blommetjies en blare baie goed skoon deur alle sand en ander vuilighede te verwyder. Verwyder ook die harde deeltjies van die blomme of blaartjies.

Comments

Popular Posts