Ma Kristie se ingemaakte Kerrieboontjies

 Die boontjies is so lekker jy wil nie wag vir 2 weke vir die geur om te ontwikkel nie! Lekker soet-suur met 'n kerrie geurtjie.



BESTANDDELE

1 kg vars groen boontjies

500 g uie, fyn gekap

1/2 E sout

1 E kerriepoeier

2 t borrie

1 1/2 koppies wit druiwe asyn

1 koppie suiker

1 E mielieblom (Maizena)

'n bietjie water vir die mielieblom


METODE

Was die boontjies en sny die punte af. Sny in kleiner stukke.

Kook die boontjies en uie in soutwater in 'n groot kastrol tot sag. Sowat 20 minute. Dreineer goed. Hou 'n bietjie water eenkant.

Sit die boontjies terug in die kastrol saam met die asyn. Kook vir 10 minute.

Sit nou die kerriepoeier; borrie; suiker en maizena gemeng met 'n bietjie water by. Kook 10 minute of tot jy tevrede is met die dikte van jou sous. 

Bottel kokend in gesteriliseerde glasbottels. 

Laat afkoel en sit in 'n donker koel plek vir ten minste twee weke vir die geur om te ontwikkel. Sit in die yskas wanneer jy dit oopgemaak het.

*Dis te lekker om so lank te wag, en jy kan dit dadelik eet as jy wil.

*Die resep maak sowat 4 standaard "pickled gherkins" grootte glasbottels vol.

*Heerlik saam met enige vleis en veral met braaivleis!


Comments

Popular Posts